Vir die afgelope 24 jaar, was WinterHoop ’n baken van hoop in die koudste maande van die jaar. Saam met ons vennote: MES, PEN, Torings van Hoop en His Hands Ministry, het ons weereens met plaaslike gemeenskappe saamgespan om warmte, waardigheid en sorg te bring aan dié wat die swaarste getref word deur armoede en haweloosheid. Aan almal wat vanjaar by ons betrokke geraak het, julle ondersteuning was duidelik dwarsdeur die 2025 WinterHoop-veldtog – Baie dankie!
Vanaf 1 tot 30 Junie het die WinterHoop-veldtog die land op merkwaardige maniere saamgebind:
- 1,704 komberse is geskenk
- 1,011 sakke klere is ingesamel
- Meer as 56,676 etes en voedselpakkies is voorsien en uitgedeel
- 15,704 veilige slaapplekke aan daklose persone verskaf
- R399,563 is binne 5 weke in finansiële bydraes ingesamel
’n Persoonlike boodskap van ons vennote:
“Wat hierdie jaar vir ons uitgestaan het, is die groeiende bewustheid oor die werklikheid van hawenloosheid en kwesbaarheid. Steeds meer mense besef dat haweloosheid nie veroorsaak word deur luiheid of ’n gebrek aan dissipline nie — dit kan enigiemand, enige tyd, tref. Dit is ’n tydsgebonde bom wat ons nie kan ignoreer nie.”
Hierdie verskuiwing in persepsie, saam met die oorweldigende ondersteuning — selfs van organisasies met wie ons nie direk betrokke was nie — spreek boekdele. Dit wys dat ons gesamentlike boodskap aanklank vind en dat mense deel wil wees van die oplossing. Meer as 160 deelnemende vennote regoor die land het ook saam met ons hande gevat en merkwaardige bystand aan kwesbare mense en gemeenskappe gelewer. Ons haal ons hoed af vir elke kerk, organisasie en groep wat saam met ons die wa getrek het. Suid-Afrika is werklik ’n land van omgee.
Baie dankie
Aan elkeen wat geskenk, gedeel, ingesamel en omgegee het — Baie dankie!
Julle vrygewigheid het hierdie winter meer as net liggame verwarm; dit het mense se gees versterk en waardigheid herstel.
Van al ons vennote: MES, PEN, Torings van Hoop en His Hands Ministry, spreek ons ons opregte dank uit. Mag ons steeds hand aan hand bly stap om ’n Suid-Afrika te bou waar niemand in die koue agtergelaat word nie.