Maak ‘n Verskil Regoor Suid-Afrika
Die WinterHoop veldtog se beplanning het reeds het in April afgeskop. RSG-radiostasie was weereens ons mediavennoot en het WinterHoop deurentyd in hulle programme bevorder en ondersteun. RSG het luisteraars regoor die land aangemoedig om by te dra tot hierdie belangrike saak. Eloise Cupido, omroeper van die program ‘Intussen’ het twee van die projekte besoek en sy het so die impak van WinterHoop eerstehands ervaar.
Terwyl winteruitdagings universeel is, moes streke soos die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal hulself voorberei vir die moontlikheid van ernstige storms met verwoestende gevolge. Hierdie vrese is bewaarheid en swaar reën en vloede het die Wes-Kaap getref. MES het stormskuilings geopen en hulp verleen aan baie mense in nood. Honderde komberse is uitgedeel asook warm klere en kos. In KwaZulu-Natal was daar na vloede in sekere dele van Durban lewensverliese en sommige areas was tydelik ontoeganklik. Tog het organisasies soos His Hands in Durban ingespring en hulp verleen waar moontlik. His Hands het gedurende Junie suksesvolle WinterHoop-uitreike onderneem na die Suid- en Noordkus van KZN, Transkei en dele van Durban se middestad wat as ‘n “gevaarlike gebied” beskou word. Dr. Hennie Combrink het hierdie ervaring ‘as om met liefde aanvaar te word’ beskryf en het die waarde beklemtoon om winteritems, wat hierdie mense se nood verlig, saam te neem en met hulle te deel.
Elke provinsie staar moeilike winteromstandighede in die gesig en daar is deurgaans behoefte aan komberse, warm klere, baadjies, musse en skoene, nie-bederfbare kos asook oornag slaapplekke in skuilings. Torings van Hoop in Bloemfontein het 1 789 maaltye by hul sopkombuis bedien, 374 gekookte Sondagmiddag etes verskaf en 3 183 voedselpakkies aan persone in gemarginaliseerde gemeenskappe uitgedeel. Komberse, warm klere en skoene is ook aan hawelose persone uitgedeel. MES bedryf ‘n sopkombuis in Hillbrow, Johannesburg, waar daar daagliks etes aan baie volwassenes en kinders bedien word. Ander MES-takke is in Kempton Park, Gqeberha en Kaapstad. Meeste van die skuilings word deur MES bedryf. ‘n Groot deel van PEN se skenkings vir Winterhoop kom van kerke. Dikwels is dit handgemaakte items wat gehekel of gebrei word met liefde. Hierdie jaar is baie kombersies vir kinders ontvang wat geskenk is aan PEN projekte wat dagsorg verleen. Tot dusver is meer as 2 300 komberse, 6 900 maaltye, 3 800 voedselpakkies, 286 sakke klere, 213 paar skoene, 1 900 bennies en 500 Bybels aan behoeftige persone uitgedeel.
Baie nuwe organisasies en groepe het by die WinterHoop-paraplu aangesluit, en hoewel almal nie goed deur plaaslike gemeenskappe ondersteun is nie, is daar genoeg tyd om volgende jaar effektiewe bemarkingstrategieë te implementeer. Ons opregte dank en waardering aan elke persoon, kerk, besigheid en organisasie wat bygedra het tot die WinterHoop veldtog. Sonder julle ondersteuning sou niks hiervan moontlik gewees het nie. Julle vrygewigheid het skuiling, klere, kos en hoop gebring aan weerlose individue aan die rand van die samelewing. Ons is bevoorreg om elkeen van julle in die WinterHoop-familie te verwelkom. Laat ons voortgaan om ons gemeenskappe te dien en ‘n helpende hand uit te reik waar dit die nodigste is.