WinterHoop 2024 Afsluiting:

‘n Seisoen van Warmte, Vrygewigheid, en Gemeenskapsgees

Met WinterHoop 2024 wat tot ‘n einde gekom het, kyk ons met groot dankbaarheid terug na ‘n uiters suksesvolle veldtog wat werklik die gees van vrygewigheid en gemeenskap regoor Suid-Afrika ten toon gestel het. Vanaf 1 Junie het ons met ‘n missie begin om hoop en warmte te bring aan dié wat dit nodig het gedurende die koue wintermaande, en danksy die oorweldigende ondersteuning en deelname van individue, gemeenskappe, organisasies en besighede het ons merkwaardige sukses behaal.

Hoogtepunte van WinterHoop 2024

Gebreide en gehekelde donasies wat harte warm laat klop: Ons brei- en hekelhelde het WinterHoop ekstra knus gemaak met hul kunstige skeppings aan MES, PEN, His Hands en Torings van Hoop. Elke mus, serp en handskoen wat met liefde gemaak is, het hoop en vertroosting, fisiese warmte en ‘n gevoel van werklike omgee en ondersteuning gebring.

Komberse om die koue te oorleef: Duisende komberse is tydens WinterHoop 2024 uitgedeel. Komberse beteken dikwels lewe of dood vir baie mense wat buite in die koue slaap. Komberse is ‘n noodsaaklike skild teen ysige winter temperature.

Uitreik in Clarens: Die uitreikbediening van die plaaslike NG Kerk, in samewerking met die Clarens Jacket Shop en plaaslike entrepreneur Guenter Nërlich, het 315 warm winterbaadjies aan kinders en kleuters in Clarens uitgedeel. Hierdie inisiatief het die krag van gemeenskapsamewerking beklemtoon en saam kon hulle die plaaslike nood aanspreek.

Vreugde van ‘n paar nuwe skoene: ‘n Aangrypende oomblik is beleef toe ‘n man wat deel is van die Towers of Hope-gemeenskap, vir die heel eerste keer in sy lewe ‘n paar splinternuwe skoene ontvang het!  Sy skaterlag en uitbundige vreugde was ‘n bewys van die diepe impak wat selfs die kleinste daad van omgee kan hê.

His Hands se hartroerende verhaal: Dr. Hennie Combrinck van His Hands Mission in Durban het ‘n besondere verhaal gedeel oor die uitdeel van teddiebere aan kwesbare kinders in Durban. Die vreugde en hoop wat hierdie eenvoudige geskenke aan kinders op die buitenste rand van die samelewing gebring het, was onmeetbaar en het die diepe impak van deurdagte gebare getoon.

Onderwyskundige en voedingondersteuning: Encounter Church se besoek aan PEN se Vroeë Kinderontwikkelingsentrums was nog ‘n hoogtepunt. Die kerk het die kinders met boeke en spesiale lekkernye bederf.  Die sentrums is met bevrore maaltye geseën.  Hierdie donasies het bygedra tot opvoedkundige sowel as voedingondersteuning.

Warm klere: Regoor die lengte en breedte van ons land is warm klere en ander noodsaaklike winter items ingesamel.  Daar was genoeg vir almal in nood wat vir hulp kom aanklop het.  Wat ‘n genade en voorreg!

Maaltye en kospakkies:  Die statistieke is verstommend.  Een van die mees basiese behoeftes kon aangespreek word met die hulp van vrywilligers en hulle donasies.

Statistieke

Die WinterHoop 2024-veldtog het indrukwekkende betrokkenheid en deelname beleef. Hier is ‘n paar sleutelstatistieke:

  • 2 654 Komberse
  • 1 523 Inkopiesakke vol klere
  • 1 138 Muse
  • 62 Pare sokkies
  • 229 Pare skoene
  • 218 Pare handskoene
  • 32 887 Beddens benut vir skuiling
  • 1 579 Stortgeleenthede
  • 46 278 Maaltye + 2 899 kos pakkies uitgedeel

Dankbaarheid en Vorentoe

Ons spreek ons innige dank uit teenoor almal wat deelgeneem het aan en ondersteuning gebied het tydens WinterHoop 2024. MANS, DAMES,  KINDERS, JONGMENSE, STUDENTE, GROEPE, GELOOFSGEMEENSKAPPE EN BESIGHEDE, julle is die ruggraat van WinterHoop en die rede vir die voortbestaan en volhoubaarheid van hierdie broodnodige inisiatief en veldtog. Julle vrygewigheid en deernis het ‘n tasbare verskil gemaak in die lewens van baie wat dikwels sonder hoop lewe.

Terwyl ons hierdie hoofstuk van WinterHoop afsluit, moedig ons almal aan om voort te gaan met ondersteuning, vriendelikheid, betrokkenheid en meelewing. Die warmte en hoop wat deur hierdie veldtog gegenereer word, sal bly voortleef in die gemeenskappe wat aangeraak is.

Dankie dat julle deel was en is van hierdie ongelooflike reis!

Share the Post:

Related Posts