Winterhoop keer terug met ’n groter, verbeterde nasionale veldtog

Bring hoop en warmte na stede in Suid-Afrika

JOHANNESBURG – Die Winterhoopveldtog, wat mense uitnooi om warm klere, komberse en nie-bederfbare voedsel in te samel vir verspreiding aan diegene in nood gedurende die winter, skop weer in Junie in Suid-Afrikaanse stede af.

Verlede jaar is meer as 4 400 komberse en net meer as 2 000 mussies deur die Winterhoopveldtog ingesamel. Sowat 7 000 inkopiesakke, gevul met ’n verskeidenheid klere en nie-bederfbare items, is ook ingesamel en meer as 1 000 mense is tydens die duur van die veldtog van skuiling voorsien.

Winterhoop is ’n vennootskap van omgee en het die afgelope 19 jaar in omvang en impak gegroei. Vanjaar se vennote staan onder leiding van MES (Johannesburg, Kempton Park, Port Elizabeth, Kaapstad), PEN (Pretoria), Torings van Hoop (Bloemfontein), en die Denis Hurley Sentrum (Durban).

“Deur saam te werk met belangrike rolspelers in die sosiale-opheffingsbedryf, het ons ’n groter invloed en kan ons meer potensiële kliënte in arm en behoeftige stedelike gemeenskappe help, terwyl ons terselfdertyd verhoudings met medevennote en die publiek opbou,” sê ds. Hannes Windell, voorsitter van MES (Mould Empower Serve) se direksie.

PEN (Participate Empower Navigate) het die afgelope 19 jaar passievol saamgewerk as ’n Winterhoopvennoot om te verseker dat iets soos koudkry in die winter, “nie ons gemeenskappe sal verhoed om hul potensiaal te bereik nie,” sê Janthinus Schrage, senior bestuurder: bemarking en kommunikasie, PEN. “Dit gaan nie net oor die verskaffing van ons dienste aan arm gemeenskappe nie, maar ook om onsself af te vra watter seëninge het ons en hoe kan ons bydra om die winter ’n bietjie warmer te maak vir diegene wat in die kloue van die seisoen vasgevang is. ’n Kombers en ’n baadjie is net ’n middel tot ’n doel, maar dit kan ’n nuwe wêreld oopmaak vir iemand wat soek na werk, vervulling, verandering, en persoonlike volhoubaarheid,” sê hy.

“Dit was nog altyd ’n geweldige voorreg om deel te kon wees van hierdie nasionale beweging en om te ervaar hoe dit elke jaar net meer en meer momentum kry! Ons glo dit is in ons saamwees – beide nie-regeringsorganisasie (NRO) en kwesbare mense – dat ons ontdek hoe om saam te reis deur die moeilike koue van die winter,” sê ds. De la Harpe le Roux, besturende direkteur, Torings van Hoop.

Vanjaar se nuwe vennoot in die veldtog, is die Denis Hurley Sentrum, wat die koördineringsvennoot vir Durban sal wees. Raymond Perrier, direkteur van die Denis Hurley- sentrum, is opgewonde oor hul deelname aan die veldtog. “Ons is ’n sentrum wat daaraan toegewyd is om Christene van verskillende denominasies bymekaar te bring – en inderdaad mense van alle gelowe – om die armes te dien.

Daarom is ons veral opgewonde oor die geleentheid tot interkerklike getuienis wat hierdie veldtog bring.”

Ds. Hannes Windell sluit af, “Namens alle deelnemende organisasies wil ek mense aanmoedig om hierdie winter ons hande te help versterk deur betrokke te raak by maatskaplike opheffing, waar dit nodig is. Saam kan ons hoop ’n realiteit maak.”

• Vir meer inligting oor die spesifieke behoeftes van die veldtog en die verskillende aflaaipunte, besoek gerus www.winterhoop.org, Facebook (@winterhoop), Instagram (give_hope_in_winter), of kontak Aloma Swanepoel by winterhoop@mes.org.za of 011 725 0001.

EINDE

Share the Post:

Related Posts

WinterHoop 2024 Afsluiting:

Met WinterHoop 2024 wat tot ‘n einde gekom het, kyk ons met groot dankbaarheid terug na ‘n uiters suksesvolle veldtog wat werklik die gees van vrygewigheid en gemeenskap regoor Suid-Afrika ten toon gestel het.

Read More